So tyd terug was die “Jabes se Gebed” een van daai groot modegiere in die kerk. Dit is ongelukkig in daardie tyd voorgehou as ‘n soort towerspreuk vir persoonlike voorspoed – die gebed wat God altyd antwoord. Van nader beskou is dit egter soveel meer as dit en is dit ‘n gebed wat ons as Kerk van die Here eintlik elke dag behoort te bid – veral in Koninkrykstyd.
In 1 Kronieke 4:9-10, tussen al die geslagsregisters, kruip hierdie gebed weg:
9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.” 10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.
Eerstens is dit belangrik om op te merk dat Jabes se naam “smart” beteken – ‘n ettiket wat Jabes graag wil afskud. Hy vra basies vier dinge van die Here, wat logies op mekaar volg.
1. “Stort u seën oor my uit” – Jabes vra dat die Here hom sommer baie sal seën. Nie net so in die verbygaan of net ‘n bietjie nie, maar baie. Emmers vol, bakkievragte, trokvragte vol, en nog ‘n bietjie. Hy wil sopnat, deurdrenk wees, oorloop van God se seën. Maar dis ook belangrik om te verstaan dat wat opgesluit sit in hierdie versoek is dat hy vir ander tot seën wil wees. Wanneer iemand in Jabes se tyd vir iemand se seën gevra het, dan gaan dit oor om daardie seëninge te kon uitdeel aan ander en dat die Here daardeur geëer kon word. M.a.w: seën my, nie ter wille van myself nie, maar sodat ek tot seën kan wees vir ander om my.
Dit help ons om bietjie ‘n ander perspektief te kry op wat dit beteken om “geseënd” te wees. Te veel kere as ons daaroor dink, dink ons in terme van wat ons nie het nie. Of speel ons die speletjie van om onsself met ander te vergelyk. Dan kyk ons na wat ander mense alles het en dink maklik dat hulle op grond daarvan meer geseënd is as ons. Natuurlik kan ons na die Here toe gaan met ons behoeftes en begeertes, maar hier is ‘n verskuiwing van fokus.
As ons saam met Jabes uitroep “Here, seën my, seën my ryklik!” dan moet dit nie oor ons gaan nie, maar oor God se Koninkryk – dat ons vir ander tot seën kan wees en Hom die eer kan gee.
2. Dan maak dit sin dat Jabes dan vra dat die Here sy grondgebied sal vergroot. Dit gaan nie hier oor ‘n groter plaas sodat hy meer mielies kan plant nie. Dit gaan oor sy invloedsfeer. Groter grondgebied beteken meer mense wat sy pad kruis. Hy vra dat die Here sy beperkings sal wegvat sodat hy vir nog meer en meer mense tot seën kan wees!
Dit moet ook ons grootste wens wees. Dat die Here ons invloedsfeer sal vergroot en alles wat in ons pad staan sal wegvat, sodat ons ons volle potensiaal as sy getuies kan bereik en vir soveel as moontlik mense sy seën kan uitdeel.
Wat is dit wat nog in jou pad staan? Wat, dink jy, is dit wat jou nog beperk? Daar is nog baie groter dinge wat jy in God se Koninkryk moet doen.
Wanneer ons dan bid dat die Here ons grondgebied vermeerder dan vra ons eintlik dat Hy ons sal gebruik soos wat Hy wil, dat Hy met ons sal gebeur wat Hy wil hê moet gebeur sodat Hy al die eer kan ontvang en dat ons die grootste moontlike impak kan hê vir die verspreiding van sy Woord en die koms van sy Koninkryk.
3. Jabes vra dan vervolgens dat die Here sy Hand oor hom sal hou. Dit kan tog nie anders nie dat Jabes wanneer hy vra dat die Here sy beperkings sal wegvat en sy grense sal verbreed dat hy nodig het dat die Here by hom sal wees en hom sal beskerm.
Dit is waarvoor hy hier vra: dat die Here hom, daar waar hy tot seën vir meer mense wil wees, sal beskerm. Hy wil vashou aan Iemand se Hand wat sterker en groter is hyself.
Die Hebreeuse woord vir “hand” kan op baie maniere vertaal word: ‘krag’, ‘beheer’, ‘sorg’. Dit kan ook vertaal word met ‘kant’. Soos in ‘rivier oewer’. Soos die oewer altyd daar is, maak nie saak waar die rivier vloei nie, so is die Here altyd daar!
Regdeur die Bybel kry ons voorbeelde van hoe die Here se hand oor ons is deur sy krag (Eks 15:6; Fil 4:13), beskerming (Ps 18:36; Joh 17:11), voorsiening (Ps 145:16; Fil 4:19) en teenwoordigheid (Matt 28:20). Ps 139:9-10 sê “Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.”
4. Laastens vra Jabes dan spesifiek dat die Here die onheil van hom af sal weerhou. Jabes wil nie pyn veroorsaak nie, wil nie smart beleef nie. Ons hoor dieselfde versugting by Jabes as in die Onse Vader: “en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.” Dit gaan hier oor die geloofwaardigheid van sy getuienis.
Ons weet al te goed wat gebeur in ons eie binneste as iemand een ding sê, maar sy dade sy woorde verraai. Ongelukkig is dit ook baie keer wat gebeur in die kerk. Dat ons woorde wil voorgee dat ons iets is wat ons nie is nie en ons dade ons dan weggee. Ons sonde veroorsaak pyn en smart. Ons selfsug en soeke na eie eer se nagevolg is dat dit verhoudings beskadig.
Jabes wil dit voorkom. Hy wil nie dat sy naam, of sy sonde of enige iets sy getuienis diskwalifiseer nie. Daar waar hy tot seën vir meer mense wil wees wil hy nie dat enige iets wat hy doen sy impak vir God se Koninkryk verongeluk nie.
Hoor wat sê Paulus in 1 Korintiërs 9:26-27 “Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.”
Die Here roep ons, gebroke en sondige mense, om sy Kerk, sy Liggaam te wees en die volheid van Hom aan die wêreld bekend te maak (Efes 1:23). As ons maar net dit kan WEES en ophou voorgee en probeer om godsdienstiger as die volgende ou te wees… Dan kan ons woorde EN dade van God se liefde en genade verkondig – ten spyte van ons sonde!
Natuurlik verhoor die Here Jabes se gebed. Die Here belowe tog dat Hy sal. Maar weereens is Jabes se gebed nie ‘n towerspreuk om die Here se seën uit Hom uit te dwing nie. Dit gaan oor dit wat Jabes in sy hart wil hê en dit gaan tog nie oor homself nie maar oor die verskil wat hy wil maak vir God.
Johannes 15:7 en 16 sê ook dat die Here vir ons sal gee wat ons Hom vra, maar dit is opvallend om te sien wanneer dit is wat Hy dit vir ons sal gee. As die Here se woorde in my bly en ek in Hom bly gaan my lysie van goed wat ek wil hê in elk geval baie anders lyk. Dat ek dan juis vir dinge gaan vra wat my gaan help om ‘n groter impak te maak vir die Here, vir sy Koninkryk, wat my gaan help om beter vrugte te kan dra en nie vir dinge wat net oor my en my behoeftes gaan nie.
Dit is wat Jabes ons leer. Nie ‘n formule om God te dwing om ons te seën nie, maar ‘n ingesteldheid, ‘n begeerte, ‘n opregtheid van die hart, om ‘n instrument in God se hand te wees. Dat ware seën van die Here juis daarin lê om deur die Here gebruik te word, vir sy Doel! Dat ons absoluut moet lewe vir sy Eer en die res vir Hom kan los, Hy sal daarvoor sorg!