Wanneer ons in Lofoffermaand in Oktober nadink oor ons lof en dank aan die Here – hoe dit lyk, wat dit beteken, hoe ons dit doen – dan kom die vraag wat die digter van Psalm 116 vra ook by ons op:
Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?
Natuurlik kan ons nooit die Here terugbetaal vir alles wat Hy vir ons gedoen het nie. Ons sal nie genoeg kan gee of genoeg kan doen om op die ou end vir die Here te kan sê: “Daarsy! Ons is nou quits!” nie. Hy het reeds die finale, ewige en totale prys betaal vir ons lewens. Hy doen dit omdat Hy vir ons lief is en nie omdat ons genoeg gee nie. Hy doen dit ook nie om ons af te pers of ‘n houvas op ons te kry nie – Hy is God, nie ‘n mens nie! Hy red ons nie omdat ons goed is nie, maar omdat Hy goed is!
Hy het ook nie ons lof en dank nodig om beter te voel of om sterker te word of om aan te hou om God te wees nie. Maar Hy is dit waardig! Hy is ons God en ons Vader wat vir ons sorg en wat bo alles waardig is om al die lof en al die eer te ontvang. Dit is sy asem wat in ons longe is, hoe kan ons dan anders as om sy lof en eer te wil uitasem, uitbasuin!
Die Psalmdigter van Psalm 116 getuig daarvan dat die Here hom gered uit van die dood en wil daarom vir die Here dankie sê met meer as net woorde. So kan ons elkeen ook getuig dat die Here ons red van die dood, nie net fisiese dood nie, maar watter donker dieptes ons ookal in ons lewens sou kon beleef.
Die Psalm wys vir ons drie maniere hoe ons ook vir die kan ‘vergoed’/dankie sê:
Eerstens praat die Psalm van ‘n offer. ‘n Fisiese offer soos die drank- en diere offers wat die Ou Testament beskryf. ‘n Daaglikse opoffering om vir die Here dankie te sê. Natuurlik gaan ons nie nou skielik weer begin brandoffers bring nie. Maar opoffering (die Engelse woord sê dit bietjie harder: sacrifice) vra dat ons moet prysgee, weggee, afstand doen. Wanneer ons besef dat alles wat ons het van die Here af kom en alles eintlik aan Hom behoort kan ons anders kyk na ons besittings en onsself en oor ons dankbaarheid aan die Here. Hoe gee ons alles vir die Here, alles wat ons het en wat ons is, gee ons onsself as lewende en Heilige offers, soos wat Romeine 12 van praat? Is ons nog bereid om op te offer net vir die doel om die Here te loof en vir Hom dankie te sê?
Tweedens praat Ps 116 van om aan te hou om die Here aan te roep. Dit gaan hier oor om op die Here te vertrou. Om met ander woorde te erken van Wie ons afhanklik is en aan te hou om op Hom alleen te vertrou en in afhanklikheid van Hom te lewe. Om getrou te bly aan die Here, om lojaal te bly aan Hom.
Derdens praat die Psalm daarvan om voor die hele volk sy geloftes aan die Here te betaal. Dit doen hy eintlik ook in/met die Psalm deur voor almal te vertel dat dit die Here is wat Hom gered het uit sy nood. Praat ons nog oor dit wat die Here in ons lewens doen? Word Hy nog geloof deur ons getuienisse van sy goedheid, van sy wonderwerke, van sy seën en sorg in ons eie lewens?
Dalk kan dit ons help om in hierdie Lofoffermaand na te dink oor die volgende drie vrae:
1. Waarom is ek lief vir die Here?
2. Watter spesifieke dinge het in my lewe gebeur waarvoor ek voel ek die Here nog “BIG TIME” skuld?
3. Wat gaan ek DOEN om vir Hom dankie te sê?