Ek weet nie van jou nie, maar 2017 was vir my ‘n redelike rollercoaster, vol nuwe dinge en veranderinge. En as ek terugkyk oor die jaar kry sommer miltsteek van alles wat al gebeur het! Een ding is egter seker: binne al die veranderinge wat ons op soveel terreine van die lewe hierdie jaar beleef het, het een ding nog altyd konstant gebly. En dit is die liefde van die Here wat nooit ophou nie! Daardie Liefde wat jou nooit sal los nie! Hy bly getrou!
Dis ook goed so dat mens hierdie tyd van die jaar so bietjie tot verhaal kom voor Nuwejaar, maar dalk is dit nodig dat ons ons fokus so bietjie anders instel. Nie op tyd en skedules en ons eie planne en om tyd af te knyp vir ‘n ruskans nie, maar eerder op die Persoon by wie daar rus is!
Advent gee vir ons juis daarvoor geleentheid. Eintlik is dit juis die begin van die nuwe Kerkjaar. Die vier Sondae voor Kersfees vier ons Advent. Ons vier die koms van die Koning en berei onsself eintlik voor vir sy koms. Ons word weer herinner aan wat dit beteken dat Hy gekom het, maar ook dat Hy weer gaan kom.
Mag jy en jou gesin in hierdie tyd julle fokus instel op Jesus, die Koning van die Konings, en mag julle sy vrede spesiaal beleef!
NS. As jy op vakansie gaan, ry veilig en kom veilig terug. ‘n Geseënde Christus-fees word jou toegewens en mag jy sy liefde sigbaar maak in die liefde wat jy in hierdie feestyd uitleef teenoor almal wat jou pad kruis.
Onthou dat ons nie ‘n erediens het op Sondag 24 Desember nie, maar wel op Kersdag, Maandag 25 Desember om 09:00