Gemeente-Ete 4 Februarie 2018

Hierdie Sondag sit ons weer aan by die tafel om saam Nagmaal te gebruik. Wat ‘n voorreg! Wat ‘n fees! Dit is aan tafel waar ons grense oorsteek, waar ons die liefde van die Here op ‘n tasbare manier beleef.  Veral so met Nagmaal as die Here ons op ‘n sigbare manier kom herinner aan sy liefde. Maar dit is ook in ons saamwees en kuier en met mekaar deel!

Daarom dat ons hierdie Sondag weer, saam met die Nagmaal, bietjie verder kuier en lekker saam eet.  Dit is weer ‘n “Bring-jou-eie-en-eet-van-almal”-tipe ete.
Onthou hoe dit werk: elke gesin bring so ‘n “eenskottel”-gereg (soos Lasagne!) Net genoeg vir jou gesin, en dan pak ons al die kos op ‘n groot tafel en almal eet saam van alles.

Dit kan regtig enige gereg wees wat vir jou lekker is.  Pastas (soos Lasagne!), bredies, paptert, boboties, enige ding. Of ‘n lekker slaai kan ook werk of iets meer gesond soos malvapoeding kan ook werk!

Onthou jou eie drinkgoed en hierdie rondte, groot seblief, ook jou eie eetgerei (of sommer papierborde ter wille van die water wat ons kan spaar!)

Ons kuier al van na die erediens af saam en dan skep ons so teen 12h00 op.

Kom kuier, deel en geniet die ete saam met ons!