Psalm 100 is op die oog af nie ‘n vreeslike unieke psalm nie. Hy leen sy versreëls by ander psalms en daarom voel dit alles so half bekend en amper voor die hand liggend as mens die woorde lees. Maar wat ons nie moet miskyk nie, is dat die psalmdigter ‘n absolute meesterstuk hier aanmekaar geweef het om sy boodskap oor te dra. Dis amper asof hy besluit het dat al die ander psalms dit nog nie mooi genoeg gesê het nie en dat hy nou vir eens en vir altyd, sonder enige onduidelikheid dit behoorlik wil sê!
Daar is ‘n totaal van sewe oproepe tot aanbidding (“calls to worship”) in die psalm. Hierdie oproepe gaan eerstens daaroor dat die Here uitbundig geloof moet word. Die Engels vertaal vers 1 met “Shout for joy to LORD!” Dis nie sommer net nie, dit moet uitgebasiun word! Maar dat dit nie gaan oor hoe hard ek sing of hoe hoog ek spring nie, maar juis daaroor dat ek die vinger weg wys van myself af na God toe wat alle lof en eer waardig is.
Tweedens dat Hy alleen gedien en gedank moet word. As ons Hom as God en Here dien dan bely ons ook daarmee wie ons nie dien nie. Ons is van Hom alleen afhanklik en aan Hom al ons dank en ere verskuldig. Derdens dat ons in aanbidding in sy teenwoordigheid, voor sy aangesig sal lewe en oral waar ons kom sal besef dat Hy daar teenwoordig is. Dat ons deur ons optrede, deur ons dank en lof, oral sy Koningskap, verklaar, verkondig en sigbaar maak.
Maar waar die meesterlikheid van die digter eers werklik tot sy reg kom is as mens sien hoedat hy hierdie woorde gerangskik het. Hierdie sewe oproepe tot aanbidding vorm konsentriese sirkels om ons na die middelpunt toe te lei: Erken dat die HERE God is! Jahweh is die enigste God! In die digter se wêreld was daar soveel “aantreklike” gode wat deur die mense opgedroom is en voorgehou as die ware god. Maar hy kom stel dit nou onomwonde, daar is net Een Lewende God!
As ons erken/bely/weet dat die Here God is, dan erken ons ook dat Hy alleen God is en niks/niemand anders nie. Geen ander god of mag of wat mense ookal aanhang of van afhaklik raak, kan werklik ons god wees nie. Nie mense nie, nie genot nie, nie mag nie, nie geld nie. Maar dan moet ons ook elkeen bereid wees om te erken – nie EK nie. Die Here is in die middel van die prentjie – Hy is God en nie ek nie! Prys die Here daarvoor!
Die opskrif van die psalm moet ons ook nie verbygaan nie. Die woord wat hier met ‘dankpsalm’ vertaal word, word ook met ‘lofprysing’ en ‘lofoffer’ vertaal. Dit is ‘n ongewone woord wat moeilik in Afrikaanse of Engelse sinkonstruksies uitgedruk word. Maar dit kom daarop neer dat God die onderwerp van ons lof bly, nie net die voorwerp wat ons lof ontvang nie. Hy is die Een wat al die tyd nog besig is om sy werk in ons en deur ons en rondom ons voort te sit en vir ewig alle lof en eer waardig is.
Hy het ons gemaak – nie net geskep nie, maar ook herskep en nuutgemaak! Ons behoort aan Hom! Sy oneindige liefde sal ons nooit los nie!
Wat as ons hele lewens kan lyk soos wat Psalm 100 praat? Dat ons lewens Dankpsalms is wat die hele tyd die vinger weg wys van onsself af, na God toe en in alles sy eer bring. Dat die belydenis, die wete dat die Here God is, dat Jesus die Here is, sigbaar word in ons daaglikse, konstante lof en dankbaarheid! Dat dit in ons lewens sigbaar word dat Hy werklik ook ons Middelpunt is.
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!