Kan jy aan ‘n paar goed dink waaraan mense vandag nog vasklou wat vir ons belangriker raak as God self? Vir Paulus en sy tydgenote was die dinge soos wat hy noem in Filippense 3:4-6 lewensbelangrik:
“Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.”
Dit is al waaroor dit gegaan het. Maar Paulus het iets nuuts, nee, IEMAND nuuts leerken wat dit alles verander het – hy het besef waaroor dit regtig gaan! Hoor wat sê hy in Fil 3:7-8
“Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry”
Ongelukkig is dit deur al die eeue die probleem van ons mense dat ons so besig kan raak met die dinge van die Here dat ons die Here van die dinge vergeet – dat ons besig is met ons dink belangrik is i.p.v. dit wat vir God belangrik is. So gebeur dit dat mense oor die kleinste dingetjie tot die dood toe met mekaar baklei terwyl dit absoluut niks uit te waai het met God en sy Koninkryk nie. Selfsug is ons grootste vyand. En moet ons die regte vrae vra – gaan dit oor God of oor my? Gaan dit oor wat Hy gedoen het of oor wat ek dink ek moet doen? Hoekom doen ek dit – omdat dit net vir my lekker is en ek iets daaruit kry, of omdat ek dit vir God wil doen, tot sy eer?
