Gee julle liggame

Ons kan maklik daarin verval om ons geloofslewe net op een of twee vlakke van ons menswees te beleef en uit te leef.  Ongelukkig is so ’n geloof dood. (Jak 2:17) Gelowiges word opgeroep om die Here lief te hê met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en al ons krag (Mark 12:30), en ons naaste soos onsself. ’n Mens is in sy wese ’n meerdimensionele wese.  Ek is nie net verstand en siel (emosie) en hart nie.  Ek is ook ’n liggaam… lees mooi: Ek het nie ’n liggaam nie, ek IS ’n liggaam. Dit wat ek in my verstand (denke) bedink, en dit wat ek in my siel (emosies) voel en dit wat ek in my hart glo moet op ’n manier duidelik word en uiting kry in dit wat ek met my liggaam (liggaamskrag) doen en sê. Elkeen van hierdie dimensies van my menswees is onderskeibaar van mekaar, maar nie skeibaar (losmaakbaar) nie.

Dit wil tog lyk of ons maar tevrede is met net breingimnastiek en gevoelsvervoering as dit by godsdiens kom. Dit is maklik om te sê ek glo. Maar hoe word my geloof sigbaar in my dade… in die dinge wat my hande en my voete en my oë en my mond doen? Hoe verskriklik sou dit nie gewees het nie as God ons liefgehad het met net sy hart en sy emosie en sy denke?  Sê nou net Joh 3:16 het so geklink:  “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy baie jammer vir ons gevoel het toe Hy sien dat ons verlore is in ons sonde en werklik ’n traantjie gepik het”.  Nee!  Hy het ons so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het om met sy liggaam te ly en te sterf… stukkend geslaan en aan ’n kruis gespyker!  (Hebr 10:1-10)

Dit lyk of daar iewers tussen ons denke en emosie en hart aan die eenkant en ons liggaam aan die ander kant, die een of ander kortsluiting is of dalk ’n blokkasie is.  Ons kan die mooiste godsdienstige- en geloofsgedagtes bedink maar dit bly by gedagtes. Kyk hoe moeilik is dit soms vir ons NG mense om iets eenvoudigs te doen soos om my hande op te hef in gebed of in lof aan die Here (terwyl dit vir Israel en later die jong Christelike kerk die natuurlikste ding was om te doen).  Ek kry nie my hart in kontak met my hande nie.  Hoeveel moeiliker is dit dan om nog op te staan en geloofsdade (liefdesdade) te gaan doen waar my hande aan mense kan gaan raak om hulle op te tel uit hulle omstandighede?

Romeine 12:1
Miskien moet ons dan maar by die begin probeer begin.  Die begin is dalk daar waar ek sê: Here ek gee my alles vir U.  My hele hart, my hele siel, my hele verstand en al my krag!  En ek doen dit omdat U vir my alles gegee het.  Om dit reg te kry moet ons gehoorsaam raak aan die Woord!  Kom ons begin by Rom. 12:1:

1983 Afr Vertaling   –  En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

1933/1953 Afr Vertaling   –  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1 A53)

New International Version – Therefore, I urge you, brothers and sisters, in view of God’s mercy, to offer your bodies as a living sacrifice, holy and pleasing to God – this is your true and proper worship.

New Living Translation – And so, dear brothers and sisters, I plead with you to give your bodies to God because of all he has done for you. Let them be a living and holy sacrifice—the kind he will find acceptable.

Uit bogenoemde tekste is dit duidelik dat my oorgawe aan die Here nie net neerkom op “jy moet net jou hartjie vir Liewe Jesus gee” nie.  My hele menswees, my hele liggaam, my hele lewe, alles wat ek is en alles wat ek het is my offer aan die Here. En die wese van ‘n offer is dat wanneer ek iets gee om te offer, ek dit nie meer het nie.  Ek dink aan die offers wat die Israeliete na die tempel toe gebring het. As ek ’n lam gee vir die offer kry ek hom nie terug sodat ek vir hom ’n houtbeen kan aansit omdat die priester net die regterboud afgesny het nie.  Die offer beteken hy is weg.  Vir altyd.  Vir my is hy dood. (Hebr 13:11).  Net so as ek myself aan die Here gee as offer. Dan het ek niks van myself oor vir myself nie. Alles behoort dan aan die Here.

Kyk hoe verander dit dan die rol van die erediens/Bybelstudie/stiltetyd in ons lewe!  Dan is hierdie geleenthede nie net ’n tydjie waar ek ’n bietjie ontsnap aan hierdie werklikheid om net later weer met my eie lewe aan te gaan nie.  Dan is hierdie geleenthede die tyd wat ek spandeer om gereed gemaak te word vir my rol in die opbou van die Kerk en die uitbou van die Koninkryk van God. Dis hier waar ek die Here toelaat om my denke te vernuwe sodat ek nuwe dade kan gaan doen.