Hoekom doen ons wat ons doen? Ons as kerk, as gemeente, as kinders van die Here, Christene. Hoekom gaan ons nog na ‘n erediens toe, hoekom bid ons, sing ons, gooi ons geldjie in die kollekte bordjie?
Ek is oortuig dat die rede waarom ‘n mens iets doen ‘n massiewe invloed het op die manier waarop mens dit doen. As mens goeie rede het om iets te doen dan doen ‘n mens die ding tog ook behoorlik. Maar wat as ons so bietjie vergeet het waarom ons iets doen? Dat ons iewers in ons agterkop nog min of meer ‘n idee het – dat daar eens op ‘n tyd ‘n baie duidelike en goeie motivering vir die saak was – maar dat ons eintlik nou te maklik maar net deur die motions gaan omdat dit ‘n goeie gewoonte geword het.
Ons sou elkeen seker maklik na die default sondagskool antwoord toe kon spring en sê wat meeste mense sê, maar is dit nog waarvan ons werklik oortuig is? En is dit nog genoeg?
Dink byvoorbeeld aan die manier hoe ons Bybellees en ons motivering om die Bybel te lees:
Ons sukkel baie keer om Bybellees werklik deel van ons lewens te maak. Ek dink die rede daarvoor is dat ons daarna kyk op dieselfde manier as wat ons baie keer na die kerk/erediens kyk. Dat dit bietjie voel soos werk of soos groot effort, en partykeer bietjie boring en onverstaanbaar is.
Dalk benader ons dit ook van die verkeerde kant af – dat ons dink dat dit iets is wat ons moet doen om geseën te word of sodat ons nie moeilikheid kry nie of sodat die weerlig ons nie slaan nie. Bybellees is belangrik maar vir ‘n ander rede as wat ons gewoonlik dink en dit is sodat ons God beter kan leerken en Hom daardeur kan eer! En hoekom sou ons dit wil doen…? Hoekom nie?! Jesus het reeds vir ons alles gedoen – hoe kan ek dan anders as om Hom beter te WIL leerken?
Deel van om die Kerk van die Here te WEES beteken dat ons Hom teenwoordig moet maak in die wêreld. Anders gestel – dat ons sy hande en voete in die wêreld is en moet uitgaan en gaan doen, sy werk op aarde voortsit, sy Koninkryk moet bou. Maar ons is ook deel van ‘n gemeente, ‘n “kerk” waar ons op ‘n gereelde basis, as Kerk, bymekaarkom. Maar as ons die Kerk IS beteken dit ook dat elkeen van ons in die kerk en in die gemeente ‘n rol het om te speel.
Dit beteken dat ons nie maar net kan terugsit en die vinger wegwys van onsself af en sê “die kerk moet bietjie so en die kerk moet bietjie so…” nie. Hier in die gemeente kry ons kans om die dinge wat die Here van ons verwag in te oefen en op te skerp sodat ons beter getuies kan wees in die wêreld. Ons kry kans om mekaar te ondersteun en te versterk. Ons kry ook kans om saam te dink en te beplan om saam ‘n verskil te maak in die wêreld. As Jesus ons lewens verander dan moet ons nie wag dat die “kerk” ietsie moet doen nie, maar om eerder te vra wat kan ons NOG doen!
Dalk moet ons meer gereeld ons eie oortuigings ondersoek en nadink oor wat dit is wat ons motiveer. Dan sal ons met meer entoesiasme, meer oortuiging, meer intensiteit kan leef!
Ons moet op die regte punt begin! By Jesus! Hy het ons vrygemaak, ons losgekoop met sy bloed en daarom behoort ons aan Hom en is ons sy Kerk! As ons begin anders dink en praat oor Kerk, die woord “kerk” reg begin gebruik, dan bedoel ons nie daarmee dat ons minder “kerk” toe wil gaan nie, maar juis dat ons MEER wil doen, meer bymekaar wil kom, meer saam wil DOEN vir God, want Jesus se genade en liefde is so groot dat ons nie anders kan as om meer te wil doen nie.
Om Kerk te wees beteken dat ons op Sondae ook bymekaarkom, maar dat ons ook op elke ander dag op elke ander plek nog steeds sy kerk IS en oral sy naam wil groot maak en sy Koninkryk bou!