Na net 2 maande en 22 dae in Houtbaai is ek seker die laaste een om vir enige iemand te kan sê “Welkom in Houtbaai!” Maar dit het ons gesin definitief nie 2 maande en 22 dae gevat om self welkom te voel in Houtbaai nie – dít was sommer van dag een af! Daarom die opskrif hier, omdat dit iets is wat ons reg van die begin af hier beleef het.
Dit reflekteer eintlik die ware kleure en hart van HoutbaaiGemeente, dat ‘n mens hier kan tuiskom en werklik tuis kan voel. Dankie daarvoor! En mag dit een van die eienskappe van ons geloofsgemeenskap wees waarvoor ons oral bekend sal wees. Dat mense van regoor die planeet wel hier in ons midde die insluitende liefde van die Here sal beleef.
Ek hoop jy is saam met my opgewonde oor die toekoms van HoutbaaiGemeente. Ons het in hierdie week bietjie die kalenderbeplanning vir die res van hierdie jaar en vir 2018 gedoen – en hier kom ‘n ding!! Ek glo dat ons nog baie lekker saam gaan kuier, saam gaan groei, saam leer en saam werklik Kerkwees hier in Houtbaai.
As ons mekaar nog nie ontmoet het nie of nog nie saam kon kuier nie, hoop ek dit is iets wat gou gaan verander. Ek sal graag een van dae by jou wil kom inloer vir ‘n koffie (of iets dergliks) dat ons mekaar beter kan leer ken. En moenie bang wees om te nooi nie – ons hou van braai en ek kan selfs tjoklitkoek saambring vir poeding!
Efesiërs 1:23 bly my by en ek hoop dat dit woorde is wat elke dag alhoemeer beskrywend sal wees van hoe ons gemeentewees lyk in Houtbaai:
“Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Mag ons aanbidding uit ons harte wees. Ons lofprysing eg en met alles wat ons is. Mag ons liefde opreg wees en ons getuienis onmisbaar.
Groete en Seën
Cornel