Baie lede, EEN Liggaam

Lees Efesiërs 4:1-6 in al die vertalings waarop jy jou hande kan lê. Hier volg die 1983 Afrikaanse Vertaling:

1Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

Paulus praat hier ernstig oor die belangrikheid van EENheid van die Liggaam van Christus, van die Kerk. Wanneer daar eenheid is kan die Liggaam optimaal funksioneer en kan groei plaasvind.

Dink maar aan hoe ons eie liggame reageer op onenigheid.  As een van ons organe/ledemate die res van die liggaam verraai en rebelleer deur verkoue te kry of seer te kry dan is die hele lyf besig om te baklei.  So gebeur dit ook in die Kerk as daar onenigheid tussen die ledemate van die Liggaam is of een of meer ledemate nie hulle plek volstaan nie.

Let op na die woorde wat Paulus gebruik: beskeie, vriendelik, geduldig, liefde, vrede.  Dit is almal woorde wat ons koppe uit die wolke uithaal en ons help om te fokus op die verhoudings rondom ons.

Verder help hy ons ook om te onthou dat ons EEN is omdat dit EEN God is wat ons een gemaak het. Dit is Hy wat dit doen uit sy genade.  Dit is “Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.”  Hoe kan ons dan nog onenigheid verdra, neersien op ander of teen mekaar werk?

Lees verder in Efesiërs 4. Vanaf vers 7-16.

7Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 8Daarom sê die Skrif:

“Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.”

9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

God gee die gawes vir die opbou van die Liggaam van Christus.  Ons is geneigd om onsself en ons rol te onderskat en te klein en ingeperk te dink oor die Liggaam van Christus. Dalk kyk ons vas teen die lysies van gawes wat ons in Paulus se briewe aantref en ons vooropgestelde idees oor hoe dit deur die eeue heen in die kerk gewerk het.  Dat ons na die lysie kyk en onsself dadelik diskwalifiseer, eerder as om agter te kom dat elkeen van ons op ’n unieke manier by die lysie ingesluit is.

Jy het net nie net ’n klomp genadegawes van die Here ontvang nie, maar jy IS ook ’n gawe aan die Kerk, aan die Liggaam wat deelneem aan die opbou daarvan.  Kan jy jouself indink wat sou gebeur as die Kerk wêreldwyd begin om wyer te dink en ons onsself regtig begin verstaan as die Liggaam van Christus wat uit Hom as hoof groei en oral elkeen werklik sy funksie begin vervul?