DOEN aan Ander

Jy het seker al gehoor dat mense sê: “Moenie aan ‘n ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.”  Dit is gegrond op Matt 7:12 waar staan: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” 

Lees net weer hierdie teks.  Sien jy? Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.

As ek sê “moenie aan ‘n ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie“, hoef ek niks te doen nie!  Dan kan ek maar net die hele tyd besig wees met my eie dinge en met myself en met myne. Maar die opdrag van Jesus is dat ek uit my klein hoekie moet opstaan en na my naaste toe moet gaan en iets vir hom/haar moet gaan doen. Wat moet ek gaan doen?  Ek moet vir hom/haar die dinge gaan doen wat ek sou wou hê mense vir my moet doen.

Jakobus 2 plaas hierdie opdrag van die Here in ’n beter perspektief.  Daar staan: 14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?   15 Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly,   16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: «Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,» maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?   17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”

Die geskiedenis van die eerste eeu nC. vertel vir ons ’n interessante verhaal.  Paulus en Barnabas het vir ’n jaar lank onder die mense van Antiogië gewerk.  Die mense daar het die boodskap van die Evangelie in so ’n mate omarm dat hulle die eerste plek in die wêreld geword het waar gelowiges “Christene” genoem is (Hand 11:26).

Toe daar ’n groot hongersnood in die Midde-Ooste ontstaan in daardie tyd het die Christene betrokke geraak by hulle wêreld en geld en middele ingesamel om vir die arm Christene in Jerusalem te stuur om hulle op so ’n praktiese manier te ondersteun.  Hulle geloof het sigbaar geword in liefdesdade.  Hulle geloof was ’n lewende geloof.

Ek wonder nou maar net… sê nou daar kom ’n groot krisis oor ons pad hier in Suid-Afrika.  Sê nou byvoorbeeld die president dank die minister van finansies af en ons Rand val tot R100 teenoor die Dollar.  Dan beteken dit dat ons ongeveer ’n honderd rand sal betaal vir ’n brood.  Dit beteken dat ons niks meer sal kan betaal nie – nie ons huisverband nie – ons sal nie brandstof kan bekostig nie ons sal nie genoeg kos kan koop vir ’n maand nie…

Wat sou jy in sulke omstandighede graag van jou medegelowiges wou hê? Ek sal darem daarvan hou as ons in sulke omstandighede vir mekaar sou sorg en byvoorbeeld met mekaar deel wat ons wel nog het sodat almal kan oorleef.  Hierdie opdrag van die Here wil ons aanspoor om juis so ’n lewensstyl te ontwikkel.  Dat ek rondom my sal kyk en mense sal raaksien soos wat God hulle raaksien en sal uitreik en aan hulle gaan doen wat ek graag wil hê dat hulle aan my sal doen wanneer ek dit nodig het.