Prys die Here!

Psalm 148 klink so mooi in die Ou Vertaling:

HALLELUJA!
Loof die
Here uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!
Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!
Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!
Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!
Laat hulle die Naam van die Here loof; want Hý het bevel gegee — en hulle is geskape.
En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ’n wet gegee wat geeneen oortree nie.
Loof die Here van die aarde af — groot seediere en alle dieptes!
Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring;
berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome,
wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls;
konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde;
jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges —
laat hulle die Naam van die Here loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!
En Hy het ’n horing vir sy volk verhef: ’n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is.
Halleluja!

Die Psalm lys amper elke denkbare ruimte wat bestaan en sê dat die Here DAAR geprys moet word.  Die digter begin so ver en wyd as wat hy kan dink en bring dit al nader aan ons en sê dat die Here ORAL geprys moet word.  Daar is nie ‘n plek, sigbaar of onsigbaar, waar die Here nie geprys moet word nie!  In die hemel en op die aarde moet Hy geprys word.  En, volgens die digter se verstaan van die wêreld, is daar baie hemele, en ook daaroor sê hy dat die Here in AL die hemele geprys moet word.  In die natuur, in die koning se paleis, by mense se huise, ORAL moet die Here geprys word!  Dit sê al klaar vir ons iets oor hoe ons die Here behoort te prys.  Oral waar ons kom, alles wat ons doen, of mense dit sien of nie, ORAL waar jy is moet jy die Here prys!  Oral waar jy kom, in elke situasie is daar ‘n geleentheid om die Here te prys.

Soos met die plekke waar die Here geprys word, sluit die digter die hele skepping in as hy praat oor WIE die Here behoort te prys.  Alles wat gemaak is prys die Here.  Hy begin weer so wyd as moontlik, by die maan en die die sterre en gaan tot by ‘n klein kindjie en almal moet saam die Here prys. Soos wat die hele natuur, die hele skepping, alles wat bestaan die Here prys moet ek en jy dit ook doen.

Die Here moet geprys word omdat Hy die almagtige Skepper is.  Hy het met sy Woord die heelal geskape en alles in plek gesit.  Elke sterretjie en die aarde en die son, alles perfek.  Hy moet geprys word omdat Hy God is, omdat sy Naam verhewe is bo alles en almal.  Hy regeer oor alles en hou alles in stand, sy majesteit strek oor die hele aarde, Hy is Koning.  Hy gee krag aan die wat Hom dien,  Hy sorg vir hulle, vir ons.  Hy is naby aan ons.  Die Here is naby!  Ons moet die Here loof en prys vir wie Hy is en nie vir wat Hy vir ons kan gee nie, wat ons uit Hom kan kry nie.  Hy het ons gemaak en ook nuut gemaak deur ons te verlos van die dood en die sonde.  Niemand en niks is magtiger as Hy nie.  Hy is naby aan ons en is lief vir ons en sorg dag na dag vir ons, omdat Hy God is en omdat Hy goed is.

Hoe is dit moontlik dat die dinge in die natuur die Here kan prys as hulle nie in die kerk kan sing nie? Alles wat gemaak is is daar om God se glorie te reflekteer.  Om te wys hoe groot en magtig Hy is.  As God dan oral en deur alles geprys moet word, dan is dit tog nie net in die erediens op ‘n Sondag as ons Praise & Worship wat Hy geprys moet word nie. Dit is mos dan ORAL en ALTYD – ook die res van die week en deur almal en alles, wat die Here geprys moet word – nie net deur die mense wat “kerk toe gaan” nie.   So prys die hele skepping, die natuur ook die Here.  Hulle het nie ‘n keuse nie. Hulle is gemaak om Hom te prys deur net te wees wat Hy hulle gemaak het.   Ek en jy is gemaak om die Here te prys!  Kom ons kies vandag om oral, met alles die Here te prys!

Die Here het jou uniek gemaak met ‘n unieke stel gawes en passies.  Hy het dinge in jou lewe gemaak wat vir jou lekker is en waarmee jy goed is.  Deur elke dag hierdie passie uit te leef kan jy die Here loof.  Deur die MANIER hoe jy dit doen waarvoor jy lief is kan jy die Here loof.  Ook deur die manier hoe jy die dinge hanteer wat nie so baie lekker is nie, kan jy ook die Here loof.  Wat is die een passie in jou lewe wat al die ander dinge maar vervelig laat lyk?  Leef daardie passie uit tot eer van die Here!  Leef vir die Here en nie vir mense of om in te pas of vir pryse of geld nie.  Hy het alles vir jou gedoen, doen nou uit dankbaarheid alles vir Hom.  Soos die berge en die sterre en die walvisse die Here prys deur te wees wat God hulle gemaak het en elke dag sy glorie reflekteer, kan jy deur te wees wat God jou gemaak het ook sy glorie reflekteer en aan Hom die eer bring!