Bid by die Biscuit Mill

So die dag voor my “gevreesde” proefpreek en onderhoud hier in Houtbaai loop ek en Alet saam met haar Kaapse niggie en ‘n vriendin daar by die Old Biscuit Mill rond. Die Neighbourgoods Market was een van die grotes op ons toeriste-wishlist.  Dit was lekker besig (soos dit blykbaar meeste van die tyd is) maar ons het darem lekker rondgekyk en ons bekke het behoorlik gewater vir al die goed wat die mense maak.

Niksvermoedend (en soos ek gewoonlik ten minste 4 dae van die week doen – hehehe!) het ek die oggend my “Jesus is my King”-hemp aangetrek vir ons dag se rondry.  So is ons toe net klaar deur die mark gestap en oppad uit toe twee Amerikaanse jong manne ons voorkeer.

Hulle het uitgevra oor my t-hemp en ek begin dadelik my gewone rympie afsteek oor die feit dat dit ons jeughempies was en daarom (nog nie!) wyd beskikbaar is nie.  Ek het gedink dit was dit vir die ontmoeting, omdat dit gewoonlik is hoe daardie tipe gesprekke loop. Maar toe vertel die manne my hulle kant van die verhaal.

Blykbaar het hulle my gesien inkom en wou met my gesels, maar ons het verdwyn tussen al die mense.  Na hulle vir omtrent ‘n halfuur gesoek het om ons weer op te spoor was hulle baie bly om ons te kry net voor ons uit is.  Rich en sy vriende is van ‘n kerk in Michigan in die VSA en hulle was hier in Suid-Afrika op ‘n uitreik en spesifiek by die Biscuit Mill daai Saterdag om rond te loop en vir mense van Jesus te vertel.

Hulle vertel toe die rede waarom hulle met my wou gesels het, is dat hulle gesukkel het om met mense te praat en gewonder het hoe om te maak, en toe sien hulle iemand wat rondloop met die Boodskap op ‘n t-hemp. Hulle het vertel dat dit hulle opnuut inspireer het om onbeskaamd van Jesus te vertel.  Rich het gevra of hy vir my kan bid en ons staan toe sommer daar in die besige Biscuit Mill en bid.

Waarvoor hy toe bid het die mat onder my voete uitgeruk aan die een kant, en was aan die ander kant ‘n massiewe bevestiging!  Hy vra toe dat die Here my sal seën in my bediening en my sal toerus en stuur om mense te bedien wat nie noodwendig deur die tradisionele kerk bereik word nie, vir die kerkloses…

😮

Met die woorde van Houtbaai se advertensie en visie en waardes vars in my geheue, gekombineer met my eie passie en drome, was hierdie werklik ‘n groot openbaringsmoment.  En noudat ek daarop terugkyk begin ek eers regtig begryp HOE groot!  Ek glo dat die Here ons as gemeente roep om sy Kerk te wees en ons stuur om dit te wees daar buite waar ons met mense van oral in die wêreld paaie kruis.  Sodat sy Liefde sigbaar kan word en mense dit deur ons kan beleef.

Nou ja, dit is seker goed en reg om mooi Christelike t-hemde te dra (en ek sal seker nooit ophou daarmee nie!), maar ek wens eintlik dat die Amerikaanse broeders nie my hemp raak gesien het nie, en dat dit eerder iets is wat ek geDOEN het, die manier waarop ek mense rondom my behandel het, wat getuig het dat Jesus die Koning is.

Dit is byverre belangriker as die boodskap op my hemp, die kruisie om my nek, die armband om my arm of die sticker op my kar.  En dit is daar waar ek nog ver tekort skiet.

Mag die Here ons toerus om waarlik sy liefde sigbaar te LEEF.  Mag Hy ons oë oopmaak vir elke geleentheid om die Goeie Nuus te verkondig, al is dit hoe eenvoudig en selfs sonder woorde.  Mag Hy ons vry maak van al ons beperkings en denke en gewoontes wat ons sou keer om werklik ten volle sy Kerk te WEES. Mag ons vriendskappe, ons verhoudings, ons gemeentewees, ons eredienste, ons menswees, ons daaglikse optrede, die onvoorwaardelike liefde en genade van die Here uitbasuin.

Mag ons woorde en ons dade Jesus se Koningskap verkondig!

Groete en lekker Oktobervakansie hou!

Cornel