In Lukas 9:10-20 lees ons van die gebeure rondom die vermeerdering van die vyf broodjies en twee vissies. Dit is opvallend hoe die dissipels se reaksie en optrede verskil van hoe die Here Jesus optree.
Die dissipels reageer maar soos meeste van ons wanneer ons deur mense “gepla” word. Hulle is half ongeduldig en wil eintlik net hê die mense moet maar weer huistoe gaan. Toe dit tyd word vir aandete sien hulle hulle kans en gebruik dit as ‘n verskoning om die Here te probeer oortuig dat die mense maar eerder moet gaan.
Die Here Jesus verwelkom egter van die begin af die mense (vers 11) en het met hulle gesels en selfs die siekes gesond gemaak. Wanneer dit aand word sien Hy die nood raak, Hy kry hulle jammer en gee eerder vir hulle iets om te eet as om hulle weg te jaag. Die Here stel weer self vir ons die voorbeeld van hoe ons met mense, selfs ‘n hele skare ongenooide gaste, moet werk.
Die dissipels sien weereens net die moeilikheid raak. Hulle sien die probleem raak: hier is duisende mense en absoluut niks om vir hulle te gee om te eet nie. Die Here Jesus aan die anderkant, kyk nie vas teen die groot skare en die krisis op die tafel om vir hulle almal kos te gee nie. Hy sien mense. Hy sien hulle nood raak. In Matteus se weergawe van hierdie wonderwerk sê hy in Matteus 14:14 dat die Here die mense innig jammer gekry het.
Ons kyk ook baie keer teen die probleem vas en fokus ook dan op ons eie probleem in plaas daarvan om werklik mense se nood, hulle behoeftes raak te sien. As ons maar weereens net begin om die Here se voorbeeld te volg en om ons oë oop te maak vir mense en werklik die mense om ons behoeftes raaksien. Dan sal ons makliker kan begin om oor te gaan tot aksie en iets daaraan begin doen.
Die dissipels kyk na die 5 broodjies en 2 vissies en besef dat hulle nie genoeg het om die probleem op te los nie. Ons hoor ook baie keer van ander se nood en van die stand van sake in die wêreld met soveel duisende mense wat nie genoeg het om te eet nie en watter ander krisisse daar ookal is. Ons sal graag iets daaraan wil doen, maar wat het ons om te gee, wat kan ons doen?
Die Here kom wys vir ons dat ons eerder maar net moet bring wat ons het, al is dit net 5 broodjies en 2 vissies. Hy gebruik dit wat ons het om te gee. Hy is die Een wat wonderwerke doen, wat in staat is om meer te doen as wat ons kan bid of dink. Ons twyfel so maklik in onsself en wat ons het om te gee en dan los ons dit eerder want dit kan tog nie ‘n groot genoeg verskil maak nie. Maar die Here wys vir ons dat dit Hy is wat sorg en dat ons maar net kan bring wat ons het.
Wat is jou “5 broodjies en 2 vissies”? Wat het jy wat jy kan gee? Ons hoef nie noodwendig in Afrika in te vaar en miljoene arm kindertjies kos te gee om ‘n verskil te maak nie. As ons kan, dan moet ons! Maar ons moet begin om ons oë oop te maak vir mense wat daagliks ons paaie kruis se nood. Ons hoef dus ook nie noodwendig miljoene rande se kos bymekaar te maak voordat ons ‘n verskil in mense se lewens kan begin maak nie.
Jy kan nou, vandag kyk wat jy het, wat jy kan gee. Jy kan vandag in iemand se lewe ‘n verskil maak. Dalk is dit iemand wat jy goed ken, dalk is dit iemand wat jy gereeld sien en min van weet, dalk is dit iemand wat jy elke dag sien. Gee wat jy het. Jou tyd, jou kennis, jou vriendskap, jou hulp, jou skouer, jou glimlag.
Moenie vaskyk teen die probleem en dink dat dit wat jy het nie genoeg is nie, gee dit wat jy het, want Jesus is genoeg.