Ons groet, maar ons weet op WIE ons vertrou!

Totsiens sê is nooit lekker nie. Dink maar aan al die kere wat jy in jou lewe vir iemand totsiens moes sê – partykeer sommer net tot netnou, partykeer bietjie langer, maar soms vir ‘n onbepaalde tyd.

Dit maak mens hartseer en laat mens onwillekeurig ‘n klomp vrae vra.  Vrae soos: “Wanneer sien ons mekaar weer?” “Gaan hulle veilig terugkom?” “Wat maak hulle alles daar anderkant?” “Gaan hulle darem ook na my verlang?” “Was dit iets wat ek gesê het?”

Maar die vrae is gewoonlik die bewys van liefde – van ‘n band wat daar tussen mense gevorm het, dat mens vir mekaar omgee. Dis waar ons onsself ook nou as gesin bevind. Ons moet een van die dae totsiens sê aan Houtbaai en die mense hier en loop ons ook maar met ‘n klomp vrae in ons harte rond.

Wat ons wel geen onsekerheid oor het nie is dat ons lief geword het vir die plek en die see en die berg, maar nog meer vir die mense! In my wildste drome het ek nie gedink dat ‘n Transvaalertjie soos ek op so mooi plek soos Houtbaai sou kon bly nie. Dit is voorwaar ‘n voorreg waarvoor ek nog steeds oneindig dankbaar is. Maar wat ons saam met ons vat is mooi herinneringe van mense wat hulle harte en hulle huise vir ons oopgemaak het. Dankie daarvoor! Dankie dat ons gemaklik en onsself kon wees.

Ons het verseker baie in die afgelope jaar geleer en baie gegroei. Ons hoop dat dit vir jou ook waar is en dat hierdie werklik die begin van ‘n nuwe en opwindende tyd vir HoutbaaiGemeente is.  Dat hierdie die begin is van ‘n seisoen van herlewing in Houtbaai. Dat HoutbaaiGemeente werklik die Lig sal skyn in die vallei – ‘n Stad op ‘n berg sal wees wat nie weggesteek kan word nie!

Ek wil jou graag aanspoor met net ‘n paar verse uit 2 Timoteus 1:

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.
7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee.
9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.
10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.
11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.
  1. Jy het ‘n gawe! Moenie bang wees om dit te gebruik nie! (v. 6) Jy is ‘n gawe vir die gemeente en so is die Gemeente ook ‘n gawe van God aan die gemeenskap. Now is the time to shine!!
  2. Die Gees vul ons juis sodat ons nie hoef bang te wees nie. (v. 7)
  3. Moenie skaam wees om die Boodskap te verkondig nie. (v. 8) Onthou: Getuig, getuig, getuig. Tydig en ontydig! Die wêreld moet die Blye Boodskap hoor en sy Liefde proe.
  4. Wees bereid om te sweet vir die Evangelie – God sal jou die krag gee! (v. 9)
  5. Moenie dat enige iets jou afskrik nie! (v. 12) Hoor waarom Paulus hom nie deur alles wat hy moes deurgaan, laat afskrik het nie:
    • Hy weet op Wie hy vertrou – WOW!
    • Hy weet dat God magtig is om sy Wil uit te voer.
Ons weet op Wie ons vertrou. Dit verander alles! En Hy is magtig om oneindig meer te doen as wat ons kan bid of dink.

Ek bid dat die Here sy seën oor jou en oor HoutbaaiGemeente sal uitstort, sodat jy tot seën vir ander ander kan wees. Ek bid dat Hy jou grondgebied sal vermeerder, jou grense sal wegvat sodat jou invloedsfeer kan verbreed en nog en meer en meer mense die Here se seën deur jou kan beleef. Ek bid dat die Here jou daar waar jy sy getuie is sal beskerm en dat Hy jou sal gebruik om vreugde te bring en dat jy sy vreugde sal ervaar!