God is Getrou!

Ons lees in Numeri 14 een van die menigte voorbeelde waar die liewe volk Israel vir die soveelste keer weer vir ons bewys, dat ons as mense maar kort van geheue is as dit kom by wat die Here alles vir ons doen en Wie die God is wat ons aanbid.

In Numeri 14:11 sê die Here hierdie woorde:

“Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?”

Die Here het al op soveel duisende en miljoene maniere vir ons gewys dat Hy almagtig is en dat Hy getrou is en vir ons sorg.  Ons vergeet dit egter nogal vinnig, die oomblik as ons omstandighede verander.  Ons kyk so baie keer die goeie dinge in ons lewens mis en vergeet alles wat die Here wel vir ons geskenk het omdat ons maar selfsugtig is en net op onsself gefokus is.  Die oomblik as dinge nie uitwerk soos wat ons dit wil hê nie dan beskuldig ons maklik die Here daarvan dat hy van ons vergeet en ons net gelos het en nie sy werk behoorlik doen nie.

Ons kyk soms so vas in ons omstandighede dat ons vergeet van al die kere wat die Here ons deurgehelp het en dat Hy ons ook in elke ander situasie sal help.  Ons vergeet dat ons God almagtig is en dat Hy alwys is en dat Hy ‘n plan het.  Ons vergeet dat ons, selfs al lyk dinge vir ons nie so lekker nie, of nie helemal uitwerk soos wat óns wil hê dit moet nie, dat ons nog al die tyd styf in sy Hand is en dat sy Wil en sy plan vir ons soveel groter is as wat ons dalk nou dadelik kan sien.  Ons moet leer om oor te gee aan sy Wil en onvoorwaardelik op Hom te vertrou.  Die Here bly getrou al maak ons net soos die volk Israel en is ondankbaar en ontevrede.  Hy hou aan om vir ons te sorg en om by ons te bly.

Jesaja 40, aan die anderkant, is maar een van so baie tekste in die Bybel wat iets sê oor hoe groot ons God is.  Mens moet eintlik die hele hoofstuk lees, maar in vers 25 en 26 sê Hy:

25Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige. 26Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.”

Ons is geneig om ons eie grootheid en die grootheid van bekende mense makliker raak te sien en te bewonder as wat ons die grootheid van God raaksien.  Ons moet net bietjie ons oë oopmaak en kyk dan sal ons sy grootheid kan sien en in verwondering staan voor Hom.  Die hele natuur, die sterre in die hemel en alles wat bestaan reflekteer die grootheid van die Here.  Ons is egter soms bang om oor die grootheid van God te dink omdat ons, hoe meer ons daaraan dink, self alhoe kleiner begin voel.

As mense is dit nie vir ons lekker om te besef dat ons klein is nie.  Dan voel ons nie meer in beheer nie, en ons voel onbelangrik.  Maar ons moet besef dat ons nooit eers sal kan begryp hoe groot ons God regtig is nie, en daarom hoe klein ons eintlik is nie.  Dit moet ons egter nie bang maak nie of laat sleg voel nie, maar eerder juis rus en vrede gee omdat die God van die heelal ons elkeen op ons name ken en dat sy liefde, soos sy grootheid, geen einde het nie.  Daarom hoef ons nooit buite beheer of onbelangrik te voel nie, want God is in beheer en vir Hom is ons belangrik!  So belangrik dat Hy sy Seun gestuur het om vir jou te sterf!  Ook DIT getuig van sy GROOTHEID en sy LIEFDE!!  Geen ander mens of geen ander god sal dit ooit doen nie en daarom is daar net Een God!!  Dit is ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus!  Aan sy Liefde is daar geen einde nie!

Jesaja 40:29-31 sê:

29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur struikel en val,
31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.”