Sing ‘n Nuwe Lied

Psalm 98:1-3

“Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.  Die Here het sy oorwinning bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.  Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou bevestig; die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.”

 As ons soos Israel sou terugdink in ons verlede in sal ons die Here se magtige dade kan raaksien.  Dalk nie soos hulle wat uit die ballingskap bevry is en kon terugkeer na hulle eie land nie, maar ‘n ander ballingskap: die sonde.  Ten spyte van ons sonde het Hy ons gered.  God het sy Seun vir ons gestuur om vir ons te sterf.  God het sy liefde en sy trou ook aan ons bevestig.  Jesus het die dood vir ons oorwin.  Daarom moet ons juig en sing en jubel in dankbaarheid!

As mens kyk na die manier hoe die psalm wil hê dat daar op die oorwinning van Jahwe reageer moet word en hoe ons wel gewoonlik daarop reageer, teenoor hoe ons op aardse oorwinnings reageer (wat ook belangrik is) is my vraag of dit nie nodig geword het om wel ‘n nuwe lied te begin sing nie? Om nuut te dink en met nuwe entoesiasme anders te reageer!

Ons lewens moet getuig.  Meer as dit, ons moet jubel, ons moet juig, die hele aarde moet druis en ‘n nuwe lied tot eer van God sing.  Maar hoe?  Hoe moet ‘n lewe lyk wat getuig van die oorwinning?  Hoe kan ons ‘n lewe lei wat selfs net naby kom aan die tipe loflied waarvan die psalm praat?

Na Paasfees, en Hemelvaart, en Pinkster, is ons nou in Koninkrykstyd.  ‘n Tyd wat maklik ongesiens verbygaan as die tyd wat die dominee sukkel om behoorlike preek temas te kry.  En Paasfees en Pinkster is tog sulke groot feeste met soveel ervarings en duidelike beelde dat die res van die jaar eintlik maar kan voel of dit net ‘n lang, vervelige pad na Kersfees toe is.  Dis ‘n tyd waarin ons ook partykeer met min tot geen verwagting kerk toe gaan, ons gaan eintlik maar net uit gewoonte en bygelowigheid na die eredienste toe…

Terwyl in Pinkster is ons vol verwagtings!  Dan is daar bekende predikers wat genooi word en reekse en massasaamtrekke en daar gebeur wonderlike dinge.  Maar my vraag is, as dit ons verwagting is in ander, minder opwindende, tye van die jaar, wat is ons verwagting van God?  Wat sê dit van ons geloof in God? Van wat ons oor sy betrokkenheid by ons glo?  Van wat ons van sy mag en Koningskap glo?

Maar die punt is dat, as Paasfees en Pinkster geen invloed op die manier wat ons lewe het nie, dan kan ons maar netsowel nie dit vier nie.  Dit is tog nou juis wat die Psalm ons oproep om te doen: ons dink terug aan die oorwinning van die Here en vra dan hoe moet ons lied van dankbaarheid dan lyk.  Tydens Paasfees en Pinkster elke jaar doen ons juis dit – ons onthou die Oorwinning van God.  Nou moet ons in Koninkrykstyd daarop reageer.

 Johan Symington skryf soos volg oor Koninkrykstyd:

“Dan werk die kerk in en aan die Koninkryk van God en rig orals tekens op van hierdie Teenwoordigheid in die wêreld wat harte en lewens verander en terselfdertyd die tekstuur van ‘n samelewing en die kwaliteit van lewe verander.

Dit het begin in klein geloofsgemeenskappe wat soos paddastoele regoor die wêreld opgeskiet het en dit gebeur tot vandag toe nog. Vir hierdie klein gemeenskappies, ook gemeentes genoem, is dit alles behalwe ‘n rustige tyd van op die stoep sit en wag op die Wederkoms. Inteendeel. Die hele idee van Hemel op aarde vreet aan hulle soos ‘n verterende vuur en jaag hulle van elke stoel, voor elke tv weg , die strate in. Hulle bid, doen naaldwerk, bou skole, rig klinieke op, vertroos, beveilig, beskerm en maak dissipels van Jesus die Vredevors, sover hulle gaan.
Hierdie gemeenskappe is dinamies en uiters aktief…….want hulle is beGeester deur die realiteit van ‘n ander orde……waar mense wel in vrede met mekaar sal kan saamleef , elkeen onder sy eie koelteboom kan sit, skoon lug kan inasem, en gesonde appels kan eet, wat nie by sy buurman gesteel of ten duurste gekoop is nie. En waar sy kinders in vrede veilig kan grootword.
Baie lag vir hulle en maak hulle af as lugkasteelbouers. En tog verbeter duisende ander se lewenskwaliteit agv hierdie stukkies selfverloëning ter wille van ander, uit liefde vir God. En die wat daarby baat vind leer God daarvoor prys, tot in die derde en vierde geslag.”
Onthou Romeine 12:1 wat sê: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, op grond van die groot ontferming van God:  Gee julleself (julle liggame!) as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.  Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”