Musiek in die Stilte

So paar jaar terug is ek saam met my boetie en ‘n paar pelle op vakansie in St Lucia.  So ry ons een dag van St. Lucia af Cape Vidal toe om daar te gaan swem. Soos dit maar gaan wil ‘n mens mos bietjie musiek luister in die kar en ons doen dit toe ook – lekker hard, soos dit hoort! Maar toe ons by Cape Vidal se natuurreservaat in ry toe is die radio skielik af en my broer draai sy venster af en sê “ons gaan nou bietjie na die natuur luister”.  Huh…?!  Op daai oomblik wou ek hom langs die pad af laai, dan kan hy lekker stap en vir die seekoeie luister!  Maar hy was reg!  Dit is presies wat ons op daardie oomblik moes doen.  Toe luister ons skielik en kyk buite toe en neem die pragtige natuur in.

So baie keer is die musiek eintlik in die stilte, maar ons mis dit omdat daar soveel lawaai orals rondom ons is.  Dink aan hoe besig fone, rekenaars, tablets en TV-skerms ons gedagtes deesdae besig hou.  Advertensie borde langs die pad, die lawaai van die stad.  Daar is net nie ‘n oomblik se stilte nie.

Dan kom die vraag by my op: Hoe hoor ek God se stem in al hierdie lawaai?  Waar gaan soek ek vir sy stem?  Stop ek nog om te luister na wat Hy sê?

In 1 Konings 19 lees ons hoedat Elia op die berg staan en die Here daar verby kom.  Daar was winde en aardbewings en groot vuur – magtige gebeure waarin mens die Here se stem sou verwag.  Maar dit is eers in die fluistering in die windstilte wat Elia dan die Here se stem hoor.

So baie keer smag ons ook daarna om die Here se stem te hoor en gaan soek dit daar waar die groot dinge gebeur – in die groot saamtrekke en musiek en ligte en by die groot sprekers.  Of andersins smag ons na sy stem maar ons is net te besig dat ons ook nie eers regtig luister nie.

Die Here Jesus stel vir ons die voorbeeld.  Ons lees op ‘n hele paar plekke in die Evangelies dat Hy op ‘n gereelde basis Homself afgesonder het om alleen te wees en te bid.

Wat as ons dit regtig kan ernstig opneem en besef dat ons dit mag doen.  Dat ons vir ‘n oomblik, elke dag, net alles kan pause en stil word om met ons Vader te praat.  Die lewe is so besig en ons raak so opgeslurp daarin dat ons dink dat dit is maar net hoe dit moet wees en dit kan nie anders nie.  Maar daar is soveel wat ons mis in die stilte.

Weereens daag dit nie net ons persoonlike agendas uit nie, maar ook ons gemeentewees.  Hoe is ons gemeente ‘n plek waar mens kan stil word, kan rus vind?  Hoe is ons, elkeen, maar ook as gemeente, vir mense waarmee ons paaie kruis, ‘n rusplek – waar die rus wat die Here ons wil gee ook sigbaar word, beliggaam word.

Mag jy ook vandag en elke dag sy rus vind, maar dit ook vir die mense rondom jou wees.

In Matteus 11:28 sê die Here Jesus:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”