AFSKOP 2018: Week van Gebed

Dis Januarie 2018!! Kan jy glo ons trek al hier?? Dit voel soos gister wat ons nog in ons kaste weggekruip het met die krag af uit vrees vir die Y2K-bug en nou is dit al 18 jaar later. Net om jou so bietjie verder te laat oud voel – dit beteken dat niemand wat nou op skool is voor 2000 (in die 90’s) gebore is nie… Ek los dit net hier vir jou om te verwerk… ;P

Die tyd vlieg werklik teen onkeerbare spoed en bou elke jaar meer momentum op.  Soos my pa altyd in Januarie sê: “As ons nog iets wil gedoen kry voor Kersfees sal ons bietjie sokkies moet optrek!”  Wel dit voel omtrent so, maar daar is nog ‘n hele hoop opwindende dinge wat 2018 vir ons in hou – veral in Houtbaai!

Ek hoop jy is saam met my opgewonde oor hierdie jaar en ek sien baie uit om die jaar saam met jou te reis en ontdek in geloof.  Mag 2018 vir jou net die beste in hou en mag jy elke dag beleef dat die Here by jou is!

Op daardie noot skop ons ook sommer die jaar af met ons eerste groot samekoms – jy word hartlik uitgenooi na ons Week van Gebed wat hierdie Sondag begin.  Regoor die land word Week van Gebed in die Kerk gehou.  Ons neem graag deel en ruim so paar ekstra geleenthede in om as gemeente saam te bid vir die jaar wat kom.

Ons gaan ook tydens die Week van Gebed die geleentheid gebruik om saam bietjie dieper te delf en te gesels in ‘n reeks van vyf boodskappe oor die tema “Om die Ware Jesus te ken”.

Die tye vir die Week van Gebed is soos volg:

  • Sondag 09h30 & 18h30
  • Maandag tot Woensdag 19h00

Ek is persoonlik baie opgewonde oor hierdie week en ek hoop om jou daar te sien!